Resensies Liefde Tussen die Sterre

Resensie deur Corrie Slabbert :

Louis is deur my radio program Reis na die Sterre op NetRadioSA geïnspireer om hierdie Wetenskapsfiksie-liefdesverhaal tussen Egon van Kreta en Riana van Rustenburg te skryf. Ek verwonder my weereens oor die woordkuns waarmee hy die feite en inligting op ‘n gemaklike, sorgsame en  eenvoudige manier, eie aan homself aan die leser oordra. Hy kry dit reg om die beelde met sy woorde die leser se gedagtes in te kleur. Reeds van die eerste woord wat hy skryf word ‘n mens geboei. Hy dartel deur die heelal en verleen ‘n wonderbaarlike insig oor die groot tegnologiese ontploffing die afgelope eeu. Die handewerk van die Skepper word met groot respek en liefde tot aan die anderkant van ons ruimte duidelik beskryf. Hy maak dit duidelik dat ons mensdom in sy eie arrogansie onkunde en homself beperk. Louis lig dit ook uit dat die wetenskap ook maar net ‘n geloof is. Hierdie verhaal met sy stomende liefdeslyn, waarin die Skepper se handewerk en die tegnologie in die uitgestrekte Heelal bymekaar gebring word, is ‘n meesterstuk soos min en word met oop gemoed sterk aanbeveel. Dit is vir my ‘n ongelooflike groot eer en ‘n onbeskryfbare groot voorreg om die een te wees wat die vonkie vir hierdie boek veroorsaak het.

Resensie: Mariette van Dyk, Mar-Leo Publiseerders:

Ek het Louis Rautenbach leer ken op bakkiesblad (Facebook) as ‘n skrywer en wat my die meeste opgeval het van Louis, is sy eerlikheid,sy lewenslus,sy liefde vir sy medemens en die manier waarop hy sy boodskappe in elke boek voortbring. Louis is ‘n man met ‘n groot hart vol omgee wat eers sy lewensles deel met sy vriende en familie.

Die stories sal die leser boei van die eerste tot die laaste bladsy.Ek het dit baie insiggewend, mooi saamgestel en opbouend gevind. Ek weet Louis gaan die nageslag en sommer baie ander lesers baie trots maak met die boek op hulle boekrakke.

Dit was ‘n wonderlike voorreg gewees om die hierdie boek te lees en drukklaar te kry.

Louis is ‘n wonderlike mens en skrywer wat met woorde kan toor. Mag elke leser hierdie storieboek van voor tot agter geniet en sy verhaal geniet soos ek.

Sterkte en doen so voort Louis. Mag God jou en jou boeke ryklik seën.

 

 

Resensie: Petro Greeff, Skrywer en Proefleser, Wellington:

Jy mag maar BAIE gelukkig wees met hierdie boek, baie goed geskryf in alle opsigte. My boontjies het verbrand terwyl ek in ‘n tuig ver van die aarde sweef. En jou karakters kan maar vry! Jou manuskrip is die spreekwoordelike boom waarin ek kan klim om weg te kruip. Egon kan my maar ook kom haal. Jy mag maar skryf, Louis, en nooit ophou nie!