13 Boeke in die mark.

Baie dankie vir almal se ondersteuning. Ek het reeds 13 boeke voltooi waarvan 5 ook in Engels beskikbaar is. Ons beplan om die nuutste boek (Liefde in Konflik) in Engels as Love under Fire ook in New Zealand bekend te stel. *(I fell in love with the country of the long white cloud.) *My laaste boeke se omslae is ontwerk deur die formidabele Annekie Heyns (skrywer en grafiese kunstenaar) van Paradysstrand.

Omslagontwerk

‘n Vriendin wat saam met my op skool was (Carolina Hoër) en tans in Beverly Hills is Amerika woon, het hierdie omslag geskilder. Sy is Hannetjie Archer (Steenkamp) van Archer Art. Sy is ‘n formidabele kunstenaar in skilder- en beeldhouwerk. Gaan kyk gerus na haar werke. Sy is begaafd. Dankie, Hannetjie.

Die lewe in ‘n oogwink

Ons lees dat die lewe soos ‘n oogwink verbygaan. Dit het altyd vir my te baie gou geklink. Hoe jonger ‘n mens is, hoe meer belaglik sal dit voorkom. Noudat my ouers ook albei oorlede is (my pa in 1979 toe ek in matriek was) en my ma in 2017) en hul kinders die (volgende) laaste geslag is, kyk mens terug en raak die woorde ‘a long walk’ ‘n vreemde realiteit. EK onthou dinge wat in my vierde lewensjaar gebeur het, en is dit derhalwe interessant om terug te dink en al die herinnering van kleuter tyd, eerste skooljaar, Hoërskool en tienderjare en al die gepaadgaande emosies, die eerste werk en die feit dat ek as 18 jarige ‘werkende man’ gedink het dat ek alles weet en die wêreld gaan oorwin, maar later besef dat jou ouers toe sowaar werklik wys was…en goeie raad gegee het. Ouma het gereeld skoolvakansies met die trein gekom om te kuier. Dan onthou ek die lief en leed, my troudag, die geboorte van my enigste kind wat later self getrou en ons met ‘n dogter en ‘n kleindogter sowel as ‘n kleinseun verryk het. Dan besef ek hoe vinnig die lewe wel verby gevlieg het, voorwaar soos ‘n oogknip. Die ergste is dat die gees nie oud word nie, maar net die liggaam en is mens se jeugdige gees uiteindelik gevange in ‘n liggaam wat nie meer aldag wil byhou nie. Een dag op ‘n slag, en geniet dit.


Liefde n Konflik

Hou hierdie spasie dop. Baie interessant draai totdat hierdie finale produk op die mark is. Korrespondensie met die Te Papa se media afdeling, die kantoor van die uitvoerende gesag uit Wellington … en korrespondensie met ‘n beroemde kunstenaar van Archer Art in Beverlyn Hills in Amerika besit. Groot verassing en opgewondenheid. Ek sal op hoogte hou.

Wat jy saai…

Toe die tweede BMW ruim ʼn halfuur later stadig en statig in die plaaspad, dan om die bos bome aankruie kom, is die opgewondenheid onder die gaste tasbaar. ʼn Gefluister klink. Natie is ingenome met wat sover gebeur. Die gaste staan op en kyk nuuskierig na waar die groot wit motor stilhou. Elke een is in afwagting om die belangrikste persoon van die oomblik eerste te kan sien. Die spanning loop hoog.
Met die twee voertuie as skans, klim die bruid stadig uit, huiwer ʼn oomblik en staan dan effe terug, weg van die motor. Frustrasie, nuuskierigheid en afwagting laat die mense hul nekke rek om beter te kan sien! Niemand kan vir Stefna behoorlik agter die voertuie beskou nie. Een van die ouer vroue staan self op haar tone om beter te kan sien.
Stefna se gevolg koek om haar saam, duidelik besig om haar met die rok, sluier en blomme te help. Die bruid straal toe sy opkyk. Haar oë soek na Nathan en vind hom waar hy heel voor by die kapel staan en wag. Hulle glimlag vir mekaar. Nathan se pikswart pak, rooi hemp en wit das komplimenteer sy raafswart hare wat in die ligstrale van die laatmiddag son glinster. Hierdie trotse bruidegom lyk gelukkig en tevrede. Natie voel gerus. “Uiteindelik,” dink hy en ontspan weer.
Die bruid beweeg ʼn paar treë nader. Dit is doodstil op die patio. Die vrolike gefladder van verskillende voëltjies by die dam tussen die bruid en die kapel klink hard en opgewek, al asof hulle deel in die groot gebeurtenis. Stefna se pa staan nader, kyk bewonderend na sy dogter en fluister glimlaggend in haar oor.
Onder die klanke van die troumars wat meteens opklink, stap hulle stadig oor die groen, netjies gesnyde gras, doelgerig na die patio tot op die punt van die rooi tapyt. Hulle huiwer ‘n oomblik, en kyk na die gaste wat voor hulle sit.
ʼn Paar snikke klink op. Iemand sug hard uit pure verwondering. Pa en dogter kyk vir ʼn oomblik vlugtig in mekaar se oë. Hulle bestyg hulle die rooi tapyt en stap met stadige treë in die loopgang tussen die gaste deur. Natie kyk verlig na die skone bruid, al die harde werk en spanning van die afgelope dae meteens vergete.
Voor die bruid stap die blommemeisie met haar mandjie vol blomblare wat sy op die paadjie strooi. Die hofknape lyk nors waar hy reg agter die bruid aan loop. Voor by die bruidegom staan sy twee strooijonkers om hul vriend te ondersteun.
Die jong manne het soortgelyke pakke as die van die bruidegom aan, maar het wit hemde en swart dasse aan terwyl hy ‘n rooi hemp en wit das aanhet. Die gevolg stap soos lyfwagte stil agter die bruid aan, die meisies in rooi hul lang rooi rokke.
Nathan lyk asof hy opstyg van trots toe sy stralende bruid al nader kom. Sy glimlag vir hom en stap vinniger, doelgerig tussen die gaste deur tot waar Nathan haar verwonderd inwag. Voor by die kapel met die hangende blomme en *Ivy*, groet Petrus sy dogter met ʼn sagte kus. Trane loop oor sy wange. Hy neem Nathan se hand en fluister ingenome vir hom. Nathan glimlag en knik sy kop bevestigend. “Sover is alles perfek,” dink Natie en glimlag weer selfvoldaan.
Natie is trots op die twee jongmense. “Hulle lyk werklik baie gelukkig … en hulle maak ʼn pragtige paartjie,” dink hy. Ouma Marie kloek tevrede, haar aandag is by Stefanie aan wie sy haar tyd die afgelope dag kon spandeer. Die vier maande oue babadogter is pragtig in haar wit rokkie en die breë rooi strik om haar kop, woelig in die liefdevolle arms van een van die mense wat oneindig baie vir haar omgee.
Natie voel deur die loop van die seremonie heel rustig. Hy raak so nou en dan aan die kind se arm om haar te help stil hou. ʼn Unieke boodskap lei die paartjie deur die formaliteite. Terwyl hulle ringe ruil, klink die diep stem van Xander, ʼn jong plaaslike sanger, in pragtige klanke oor die plaaswerf terwyl hy die paartjie met ʼn minnelied toesing.

Liefde in Konflik

*LIEFDE IN KONFLIK*

*Kia ora, Aotearoa. *

Hierdie boek word met baie respek en groot nederigheid opgedra aan elke mens (soldaat, man, vrou en kind) wat hulle lewe, hetsy deur militêre operasies, ontbering, konflik, ontwrigting, ongeluk of enige ander gebeurlikheid in hierdie verskriklike oorlog verloor het. Dit raak mense oor geslagte heen steeds diep in die hart.

Die Tweede Wêreldoorlog (bekend as *WWII* – 1 September 1939 tot 2 September 1945) relatief kort na die Eerste Wêreldoorlog (28 Julie 1914 tot 11 November 1918), het miljoene lewens geëis, mense ontwortel en families wreed ontwrig.

Laat ons hierdie dapper mense – elke man vrou en kind – wat deur dié verskriklike oorlog geraak is, nooit vergeet nie.

*Te Pakanga nui.*

*INLEIDING:*

Hierdie oorlogsroman beskryf ʼn besonderse avontuur, sterk vermeng met aksie, deursettingsvermoë, en lief en leed wat elke leser aan die hart sal gryp.

Twee jong mense, Kevin Welsh, ʼn voetsoldaat, en Helen Townsend, ʼn mediese Suster van Tekapo, ontdek die wonder van hul liefde die aand voordat die jong man vir die oorlog moet aanmeld. Herinneringe aan hierdie passievolle nag volg die twee verliefdes regdeur die verhaal tot aan die einde van die oorlog, waarna nuwe uitdagings hul pad weer kruis.

Suster Helen volg haar held later, as verpleegkundige, na die oorlogsfront waar hul liefde, te midde van die byna onhoudbare omstandighede en die moeilike situasie, verder ontvou en ontwikkel.

Die gedagte vir hierdie verhaal het vroeg in Januarie 2020, tydens ʼn besoek aan die Te Papa Museum in Wellington, in die Noord Eiland van New Zealand ontstaan, en is spesifiek deur die besonders volledige en indrukwekkende uitstalling van die oorlog geïnspireer. Die toer deur hierdie deel van die museum, met sy realistiese en volledige uitbeeldings en standbeelde, asook welverdiende erkenning en eer wat aan die deelnemers en hul families gegee word (wat in alle aspekte elke Kiwi raak), het my diep aan die hart geruk.

Die idee hieroor het aanhou groei totdat dit in April 2020, gestalte begin kry het.
Na deeglike navorsing is fiktiewe karakters in sekere konfliksituasies geskep, en behoort hierdie omgewing waarin die verhaal afspeel, by elke liefhebber van romanse en oorlogstories, asook by elke trotse New Zealander, aanklank te vind. Alhoewel baie feite uit die geskiedenis gebruik is, is dit ook met fiksie vermeng sodat die verhaal sinvol en interessant vertel kan word. Baie feite kan dalk minder akkuraat wees, maar is nogtans naastenby getrou volgens die tydlyn van die oorlog geskryf.
Ek is groot dank verskuldig aan die Te Papa Museum en die geskiedskrywers vir die bronne van inligting op internet, maar ook aan elke iedere Kiwi wat hul pragtige land op ʼn besonders trotse wyse onderhou, koester, beskerm en bemark. Die trots van die New Zealanders wat ek uit die geskiedenis oplees, heers vandag nog onder hierdie besonderse mense van die ‘Eiland van die lang wit wolk’.
*Die omslag bevat ‘n foto van die besonderse beeld van Suster Lottie Le Gallais, wat deur Weta Workshop geskep is en in die Gallopoli uitstalling in die Te Papa Museum in Wellington te sien is. *
*Hierdie verhaal se hoof karakters is fiktief, en enige ooreenkomste is bloot toevallig.*

Wat jy saai

“Ek wéét net dat dit sy is. Dit voel asof daar ‘n konneksie is!” sê Natie trots, duidelik daarvan oortuig dat sy instink reg is. ‘n Oombliklike liefde vir die klein mensie vul sy hart. “Hoe is dit moontlik?!” dink hy. “Hierdie … kits liefde vir die baba … dit is ongelooflik! Sy oupa-hart swel van trots. Hy reik met sy vinger uit na die babadogtertjie wat so stil en rustig in die styf gedraaide kombersie lê en slaap.
Met sy vingerpunt teen die glas wat ‘n perfekte lyn na haar vorm, wys hy gretig na haar. Sy hart bons. Hy voel skoon aangedaan om die wonderwerk te aanskou. Hulle staar ‘n wyle in verwondering en lê die beeld van die prag-kind in hul gedagtes vas. “Kom, die vars ouers wag,” sê Marie en rem aan haar man wat meer as lank genoeg soos ‘n standbeeld by die venster bly staan en staar. Die baba slaap, en hul kan tog niks verder doen as om deur die glas na haar te kyk nie.

Wat jy saai…

“Wie? Wie is die polisieman,” vra Natie eisend. Dirk is metens verward. “Ek wil sy naam hê want ek wil gaan uitvind of hy bloedmonsters het om die stelling te kan bewys,” sê Natie onheilspellend kalm. “Ek wil ‘n klag teen hom gaan lê as hy nie oor bloedtoetse beskik om hierdie bewering te staaf nie. Ek was by my kind net na die ongeluk, en hy was so nugter as wat ek nou is,” sê Natie. Dirk besef nou eers met wie hy praat en skrik merkbaar. “Die polisie … die polisie,” stotter hy. “Jy sê so, ja, maar ek soek sy naam. En as jy nie ‘n naam kan gee nie, kla ek jou summier aan vir naamskending,” dreig Natie. Van pure skrik raak Dirk se oë al groter. “Ek … uh … niemand het dit vir my gesê nie … Ek … uh … dit is my eie weergawe … . Ek het gedink … ,” hyg die skinderbek. “Gedink? Gedink? Nou dan staak jy jou *bloody* geskinder onmiddellik.

Wat jy saai…

WAT JY SAAI… Dit gaan egter oor ander dinge vir hom. Nathan is nog jonk en sy pa verwag dat hy op hierdie stadium op sy skoolwerk moet fokus. Soos enige ouer met ambisie het hy voorspoedige toekomsverwagtinge vir sy enigste kind.
“Ek hou baie van haar, Poeks,” herhaal hy, byna eisend. Natie weet dat hy nie sy seun se vriende kan kies nie, allermins sy vriendinne. “Sy…sy gaan haar broek nie op hou nie…seun,” waarsku Natie nogtans vermanend, al asof dit die jong man sou afskrik.
“Pa moenie kyk na hoe sy nou is nie, kyk na wat sy in Christus kan wees,” antwoord hy in alle opregtheid en met nuutgevonde selfvertroue. ‘n Skok sidder deur Natie se liggaam. In al die jare het hy hierdie einste woorde vir sy seun en die kerk-lidmate geleer, en hier word hy vandag met sy eie wysheid gekonfronteer! Natie besef dat hy sy seun se respek sal moet behou, dat hy nou by sy eie beginsels sal moet staan en daardie lering met eie dade moet bevestig.
Natie kyk nogtans vir ‘n flietende oomblik hulp-soekend na sy vrou wat by voorbaat vermanend na hom kyk. “Jou eerste uitdaging met jou tienerseun…,” kon sy sekerlik sê, maar swyg in haar wysheid. Op daardie oomblik gee Natie byna te maklik toe. In sy gemoed voel hy egter nie die vrede wat hy graag sou wou hê nie. Hy sal nogtans sy eie woord gestand doen en sy seun die geleentheid gee om hierdie stelling, wat hyself al so baie aan ander geleer het, te bewys.