Wat jy saai…

Toe die tweede BMW ruim ʼn halfuur later stadig en statig in die plaaspad, dan om die bos bome aankruie kom, is die opgewondenheid onder die gaste tasbaar. ʼn Gefluister klink. Natie is ingenome met wat sover gebeur. Die gaste staan op en kyk nuuskierig na waar die groot wit motor stilhou. Elke een is in afwagting om die belangrikste persoon van die oomblik eerste te kan sien. Die spanning loop hoog.
Met die twee voertuie as skans, klim die bruid stadig uit, huiwer ʼn oomblik en staan dan effe terug, weg van die motor. Frustrasie, nuuskierigheid en afwagting laat die mense hul nekke rek om beter te kan sien! Niemand kan vir Stefna behoorlik agter die voertuie beskou nie. Een van die ouer vroue staan self op haar tone om beter te kan sien.
Stefna se gevolg koek om haar saam, duidelik besig om haar met die rok, sluier en blomme te help. Die bruid straal toe sy opkyk. Haar oë soek na Nathan en vind hom waar hy heel voor by die kapel staan en wag. Hulle glimlag vir mekaar. Nathan se pikswart pak, rooi hemp en wit das komplimenteer sy raafswart hare wat in die ligstrale van die laatmiddag son glinster. Hierdie trotse bruidegom lyk gelukkig en tevrede. Natie voel gerus. “Uiteindelik,” dink hy en ontspan weer.
Die bruid beweeg ʼn paar treë nader. Dit is doodstil op die patio. Die vrolike gefladder van verskillende voëltjies by die dam tussen die bruid en die kapel klink hard en opgewek, al asof hulle deel in die groot gebeurtenis. Stefna se pa staan nader, kyk bewonderend na sy dogter en fluister glimlaggend in haar oor.
Onder die klanke van die troumars wat meteens opklink, stap hulle stadig oor die groen, netjies gesnyde gras, doelgerig na die patio tot op die punt van die rooi tapyt. Hulle huiwer ‘n oomblik, en kyk na die gaste wat voor hulle sit.
ʼn Paar snikke klink op. Iemand sug hard uit pure verwondering. Pa en dogter kyk vir ʼn oomblik vlugtig in mekaar se oë. Hulle bestyg hulle die rooi tapyt en stap met stadige treë in die loopgang tussen die gaste deur. Natie kyk verlig na die skone bruid, al die harde werk en spanning van die afgelope dae meteens vergete.
Voor die bruid stap die blommemeisie met haar mandjie vol blomblare wat sy op die paadjie strooi. Die hofknape lyk nors waar hy reg agter die bruid aan loop. Voor by die bruidegom staan sy twee strooijonkers om hul vriend te ondersteun.
Die jong manne het soortgelyke pakke as die van die bruidegom aan, maar het wit hemde en swart dasse aan terwyl hy ‘n rooi hemp en wit das aanhet. Die gevolg stap soos lyfwagte stil agter die bruid aan, die meisies in rooi hul lang rooi rokke.
Nathan lyk asof hy opstyg van trots toe sy stralende bruid al nader kom. Sy glimlag vir hom en stap vinniger, doelgerig tussen die gaste deur tot waar Nathan haar verwonderd inwag. Voor by die kapel met die hangende blomme en *Ivy*, groet Petrus sy dogter met ʼn sagte kus. Trane loop oor sy wange. Hy neem Nathan se hand en fluister ingenome vir hom. Nathan glimlag en knik sy kop bevestigend. “Sover is alles perfek,” dink Natie en glimlag weer selfvoldaan.
Natie is trots op die twee jongmense. “Hulle lyk werklik baie gelukkig … en hulle maak ʼn pragtige paartjie,” dink hy. Ouma Marie kloek tevrede, haar aandag is by Stefanie aan wie sy haar tyd die afgelope dag kon spandeer. Die vier maande oue babadogter is pragtig in haar wit rokkie en die breë rooi strik om haar kop, woelig in die liefdevolle arms van een van die mense wat oneindig baie vir haar omgee.
Natie voel deur die loop van die seremonie heel rustig. Hy raak so nou en dan aan die kind se arm om haar te help stil hou. ʼn Unieke boodskap lei die paartjie deur die formaliteite. Terwyl hulle ringe ruil, klink die diep stem van Xander, ʼn jong plaaslike sanger, in pragtige klanke oor die plaaswerf terwyl hy die paartjie met ʼn minnelied toesing.

Please follow and like us: